Blog Archives

Toiings – Mikro

toiings

Hoe skryf mens ’n resensie oor ‘n boek van ‘n tyd waar kolonialisme en rassisme hoogty gevier het? As ek sê ek het die boek terdeë geniet, beteken dit ek is ’n rassis?

Toiings is ‘n verhaal van ‘n bruin man wat as skaapwagter werk vir ‘n wit man. Die taalgebruik in die boek is eie aan ’n vergete era: toe plaaswerkers respek getoon het vir hul base deur hul “baas” aan te spreek; en na hulself te verwys as “klonkie” en “meid”.

Deesdae in ‘n vreeslike politieke-korrekte era, word dit nie meer toegelaat nie, selfs nie eens meer in die literatuur nie.

Maar dis juis die taalgebruik wat hierdie boek en karakter so gewild maak. Die skrywer draai nie doekies om nie, maak nie verskoning nie. Hy vertel dit net soos dit is. Woorde soos: stroois, Meraai-goed, omgesukkel, broekskeur gaan, ens. bewys net weer hoe mooi Afrikaans as taal is (as mens net die politiek kan opsy skuif).

Ek dink Toiings was een van die laaste boeke wat my ouma gelees het voor sy oorlede is.

Wie was Mikro?
Dit was die skuilnaam van ‘n skrywer en onderwyser wat oor ‘n 100 boeke gepubliseer het. Hy het glo sy bynaam gekry toe hy laat was vir ‘n biologieklas. Hy was Corlia Fourie se vader.

Ek het “Ruiter in die nag” wat ook deur Mikro gepen is, gelees.

Eerste Publikasie: 1934
Sterstatus: 5/5

 

 

 

Advertisements

Die Spioen – Paulo Coelho

Hierdie boek is geskryf deur middel van die Faction-tegniek. Faction is wanneer ‘n verhaal op ware mense of gebeure gebaseer vertel word, maar bietjie aangedik word met fiksie.

Die probleem wat ek met Faction het, is mens weet nie wat is feit en wat is versinsel nie. Die skrywer erken self in sy skrywernota: “Alhoewel ek probeer het om my roman te baseer op die ware feite van Mata Hari se lewe moes ek soms dialoog skep, sekere tonele saamvoeg, die volgorde van ‘n paar gebeure verander, en enigiets wat ek gedink het nie betrekking het tot die vertelling nie weglaat.”

Mata Hari het nie ‘n maklike lewe gehad nie. Sy is op die ouderdom van 16 verkrag, maar in plaas daarvan om op ‘n hopie te gaan lê en haarself jammer te kry, het sy besluit om haar sensualiteit en seksualiteit as ‘n wapen te gebruik. Iets wat uiteindelik tot haar ondergang en dood gelei het.

Agterblad:
Haar enigste misdaad was dat sy ‘n onafhanklike vrou was.

Toe Mata Hari in Parys aangekom het, was sy platsak. Kort daarna is sy besing as die elegantste vrou in die stad.

As ‘n danseres het sy gehore geskok en verruk, as ‘n vertroueling en courtisane het sy die rykste en magtigste mans van haar era betower. Maar paranoia as gevolg van die oorlog het Frankryk verteer, en Mata Hari se leefstyl het haar onder verdenking geplaas. In 1917 is sy gearresteer in haar hotelkamer aan die Champs-Elysées en van spioenasie aangekla.

Die Spioen is die onvergeetlike verhaal van ‘n vrou wat dit gewaag het om die konvensies van haar tyd uit te daag en die prys daarvoor betaal het, soos vertel in Mata Hari se stem in haar finale brief.

Eerste gepubliseer: 2018 (Afrikaans); 2016 (Portugees, Engels).

Aanbeveling: 3/5

Interessante feit: Mata Hari was die eerste danser wat heeltemal ontklee het.

Die-spioen

 

Ek lees darem Afrikaanse boeke ook!

My twee mees gunsteling boeke in Afrikaans is:

1. “Moerbeibos” deur Dalene Matthee ***** (5/5)

Moerbeibos

Opsomming:

Silas Miggel is ‘n man van eenvoud en van eer. ‘n Bosmens wat sy mooie Mirjam op die oopte van Gouna se platrand grootmaak – eenkant, sodat hy haar kan weghou van mans. Dat hy onwettig woon op kroongrond wat vir immigrante opsy gesit is, traak hom min.

Hy is ‘n man wat sy eie dink dink en wat sy staan kan staan. Moeilikheid soek hy nie, maar moeilikheid soek hom.

Soos die spul rumoerige Italiane wat op ‘n dag op die platrand afgelaai word. Sywurmboere uit Italië wat ingevoer is om ‘n sybedryf te kom vestig, en dit op ‘n stuk aarde waar ‘n moerbeiboom verseg om in die potklei te groei.

Dat hulle die strawwe boswinter met sy aanhoudende reën en koorssiekte, met hulle kinders in tente moet sit, is maar die begin van die ellende. Hulle sukkel om hulle verstaanbaar te maak en om te verstaan wat in hierdie deurmekaar wêreld aangaan; hulle raak al hoe meer verbitter oor hulle deur die goewerment om die bos gelei en daarna vergeet is; en vir die ruigtes bly hulle doodbang.

Silas wil hulle nie daar hê nie, veral nie om sy dogter nie, maar teen sy sin raak hy betrokke by hulle lot; word hy sieketrooster en vredemaker. En planmaker. Want die Italiane wil hy op ‘n skip kry, terug na Italië.Hulle is klipmense, nie bosmense nie.

Maar Silas Miggel staan man-alleen teen die goewermentswiel, en dié rol stadig maar onverbiddelik.

En boonop raak sy meisiekind onregeerbaar: party dae verdwyn sy net en kom die aand stralend terug, en sy steek haar geheim weg soos die Bos sy lelies.

“Moerbeibos” is ‘n verhaal wat op ware feite gebaseer is. Dis vol gebeurlikhede: amusant, en soms snaaks, ontroerend, met plek-plek tragiese aksente.

Gepubliseer: 1987.

Opinie: Dalene Matthee is een van die min skrywers of selfs die enigste skrywer wat enigiemand lief maak vir die Bos. Sy het vir jare self in die Knysnabos en ander omliggende dele spandeer om navorsing te doen oor die bosmense. “Moerbeibos” is die boek wat ek die meeste geniet het uit Matthee se pen.

Dalene Matthee

Ek het ook een harde les geleer met hierdie boek: moet nooit die boeke wat jy met jou hart lief het vir iemand leen nie. Jy sal dit nooit weer sien nie.

2. “Tussen Stasies” deur Irma Joubert” ***** (5/5)

Tussen Stasies

Opsomming: 

‘n Aangrypende verhaal wat jou intrek en meesleur, karakters waaroor jy bly dink lank nadat die boek neergesit is.

‘n Treinreis, dink Jakob, is soos die lewe self. ‘n Mens is die hele tyd op pad iewers heen. Jy klim by jou bestemming af, vertoef korter of langer klim altyd weer by ‘n stasie op na ‘n volgende bestemming. Maar die trein hou aan loop, of ‘n mens afgeklim het of nie. En selfs as jy nooit weer op die trein klim nie, stoom die trein onstuitbaar voort, Behalwe as iemand ‘n treinbrug opblaas. Aspris, Per ongeluk.

Hy moes ‘n besluit neem vir haar beswil. ‘n Besluit wat aan Jakob Kowalski bly vreet. Ná  die treinrit van Pole af bly Gretl op die stukkende trappe van ‘n stukkende kerk in Duitsland agter – klein, uitgeteer met net die dokumente dat sy suiwer Aries is, haar pa ‘n gevalle SS-soldaat. En haar groot geheim. As een van die Duitse wesies kom sy Suid-Afrika toe, word sy ‘n Christen-Afrikaner-meisie. Gekoester. Gelukkig maar mettertyd word die realiteit meer reëel, word dit al moeiliker om te ontsnap na haar sprokieswêreld. En haar drome word erger  – die vuur wat sy nie kan blus nie, nie verstaan nie, waarvan sy nie kan wegkom nie. Soos van haar geheim. Net Jakob, ver in Pole, sal verstaan. Mag daarvan weet, kan miskien heelmaak.

“Tussen Stasies” is ‘n verhaal van die mens se onmag teen die noodlot wat dreig om sy geluk te verwoes. Maar dis ook ‘n verhaal van die mag van sy gees om bo dit uit te styg en te oorwin.

Gepubliseer: 2007

Opinie: 

Net soos Dalene Matthee daarvan hou om ooreenstemmings met die lewe en die bos te maak, gebruik Irma Joubert die “trein”.

Hierdie boek het ek ook smoorverlief geraak op ‘n karakter. Die enigste ander keer wat dit al met my gebeur is met “Jane Eyre” – maar dis ‘n boekresensie vir ‘n ander dag.

Hierdie boek is ook goed genavors en Joubert weet hoe om lewe in haar karakters te blaas.