Nagapie

Die nagapie is my nuwe gunsteling diertjie. Het jy geweet hulle woon selfs in die stad? Ek het nie.

Ek het twee toevallig raakgesien toe ek een Maandagaand teen skemer met iemand onder ‘n doringboom staan en gesels. Ek sien uit die hoek van my oog hoe iets kleins rondspring in die boom.

“Haai! Kyk daar!”

Ek dog toe eers dis twee eekhorings, maar iemand deel my mee dat nee, dis waaragtig twee nagapies!

Ek sou nooit kon droom dat ek nagapies in die middel van Pretoria sou kry nie. Ek wonder waar hulle in die dag slaap, want dis nou nie juis baie stil hier in die stad nie. Baie honde wat blaf, alarms wat afgaan, taxis se toeters wat blêr, ens.

Ons het die Moreletapark Spruit wat deur Pretoria loop. Miskien kom hulle juis van daar af? Of dalk van Wolwespruit se kant?

‘n Volgende aand sien ek een weer en na-aap sy geroep. Hy stop en kyk my met sy uitpeuloë aan.

Hier is ‘n gedig wat ek geskryf het:

Die nagapies

Maandag skemer, die son sak
wip hulle rats van tak tot tak
uit die rigting van die kerk se dak.

Piepklein vlermuis-oor rakker
gevolg deur sy waaierstert makker.

Twee jakopeweroë loer vir my
soos ‘n nuuskierige agie.
Piepklein, piep-skree apie
maak toe kennis met die stadsjapie.

Advertisements

About dada4nonsense

I am a 23 year old (at heart) who loves anything nonsensical

Posted on November 18, 2017, in Poems and tagged , . Bookmark the permalink. Comments Off on Nagapie.

Comments are closed.

%d bloggers like this: