Nuuskierig

Ek is nuuskierig. Ek is soos ‘n klein kindjie deesdae. Ek bevraagteken alles: veral die goed wat ek selfs op skool geleer is. Maar hoekom is dit só?

Ek het die afgelope naweek besef hoe besonders die woord ‘nuuskierig’ is. Ironies dat die woord ‘nuus’ reeds in die woord voorkom. Ek het ‘n graad in joernalistiek, maar ek is nie geïnteresseerd in wat NOU gebeur nie. Ek wil weet wat TOE gebeur het. Ek vind mense en dinge van die verlede vreeslik interessant.

Ek het probeer uitvind waar die woord ‘nuuskierig’ vandaan kom. Ek onthou op universiteit moes ons vir Afrikaans sekere woorde se etimologie naslaan. Maar dit was meesal in boeke in daai groot biblioteek by Tuks. Die beste wat ek op die internet kon vind, is:

Die woord ‘Nuuskierig’ kom van die Nederlandse woord ‘Nieuwsgierig’. Dit dateer terug tot en met die jaar 1658. In ander tale: ‘nysgerrige’ in Deens en ‘nysgjerrig’ in Noors.

Nieuwsgierig of nieuwschierig is ‘n samestelling wat bestaan uit nieuws en gierig wat beteken jy is begerig om alles te weet. Die ‘schier’ kan beteken byna of nagenoeg. Blykbaar het daar ‘dissimilasie’ plaasgevind waar die ‘g’-klank in ‘n ‘k’ omgeslaan is.

Wisselvorme: nuusgierig, weetgierig

Idiome/spreekwoorde met “nuuskierig” in:

Ek brand van nuuskierigheid – word gesê as jy iets NOU wil/moet weet.

Jy is darem ‘n nuuskierige agie! –Dié Agie kom van die Nederlandse Aagje van Agatha van Griekse agathe, agathos,wat beteken ‘goed’. Hierdie naam is sedert 1654 reeds in Nederland bekend as opskrif van ‘n klugboek van Jan Soet met die titel De gaven van de milde St. Marten: kluchtig avontuurtje van’t nieuwsgierige Aegje van Enckhuysen. Volgens die verhaal gaan ‘n baie nuuskierige vrou met die naam Aegje na die Belgiese stad Antwerpen waar sy in die moeilikheid beland.Hoewel ons vandag nie meer hierdie verhaal ken nie, leef haar naam voort in nuuskierige agie: ‘n baie nuuskierige persoon wat oral neus insteek (http://www.taaloord.co.za/Idiome_A-Z-lys_Helena_Liebenberg.pdf).

Nuuskierig. Dit is my nuwe gunsteling woord!

 

About dada4nonsense

I am a 23 year old (at heart) who loves anything nonsensical

Posted on June 7, 2016, in Notes and tagged , . Bookmark the permalink. Comments Off on Nuuskierig.

Comments are closed.

%d bloggers like this: