100th post special – My family history/my familie geskiedenis

Family crest

Family crest

I had a hard time contemplating what I should do for my 100th post. But seeing as I won’t be 23 years old much longer, I just have to tell you about my family history.

My forefather (who traveled from Germany to South Africa in the 1700’s) was only 23 years old! I wish I could have met him.

Apologies, the next section will be in Afrikaans.

Ek is nou 23 jaar oud. (Hoekom kan ek nie vir ewig 23 bly nie???).

My stamvader, Hans Jürgen Linde, was 23 toe hy sy ouerhuis en vaderland verlaat het. Soos baie jongmense in sy tyd het hy ’n nuwe vaderland gaan soek in ’n deel van die “nuwe wêreld” wat gekoloniseer is.

Ek wens ek het die guts gehad om dit te doen. Daar is dalk ’n moontlikheid dat ek volgende jaar gaan moet trek na Kaapstad (ek was nog nooit daar nie! ).

Hy was die seun van Hans Georg Linder en Magdalena Brombacherin wat in Hagsfeld, naby Karlsruhe in Duitsland gewoon het.

Hans is op 21 September 1730 gebore. (OMW! Net ’n paar dae van my verjaarsdag – ek verjaar 29 September).

Sy pa was 44 en sy ouers was al 18 jaar getroud.

Hy het na Suid-Afrika gekom as soldaat in diens van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie en land in 1753 aan die Kaap (bietjie meer as ’n eeu nadat Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het). Op die skip Leijden.

Hy het later ’n wamaker geword. (Ek wonder of hy hout help vervoer het uit die Knysna bos. Of dalk het hy net die waens gebou. My ma se pa is van die Van Rooyens wat in die Knysna bos gebly het. Maar hul was darem nie so arm soos die Van Rooyens van Dalene Matthee se roman “Fiela se kInd” nie.)

Sy van was oorspronklik Linder. Die “r” het glo by sy aankoms aan die Kaap in 1753 blykbaar per abuis deur die Hollandse amptenare weggelaat.

Hans het met Catharina Elisabeth Swart, die weduwee van Pieter Moleman wat op die plaas Ganskraal aan die Sonderendrivier gewoon het, getrou. Sy was die stammoeder van al die Moolmans en van al die Lindes in Suid-Afrika. Sy is in 1748 met Pieter Moleman getroud en het vyf kinders by hom gehad. Sy is in 1758 met Hans Linde getroud en hulle het ses kinders gehad waarvan vier seuns was. Een seun is jonk oorlede.

Hy is drie keer getroud. Uit die nasate van die eerste ouma is die Swellendamse Lindes gebore, en uit die afstammelinge van die seuns van HJL verskeie Vrystaatse Lindes, waaronder die Kareeklowers, Paradysers, Dealesvilers, Franforters, Warmfielers, Schanskralers en Pietersdalers. My oupa is afkomstig van die Schanskraalse Lindes.

Hans was vir ongeveer 17 jaar die landbouer op Ganskraal, maar hy self het nooit grond daar besit nie (ai, dis nou jammer. Klink asof hy effens van ’n gold digger was. Grappie!) Sy kleinseun, kommandant Jan Linde, het later heelwat plase in daardie omgewing gehad (nice om te sien iemand in die familie het teen die Engelse baklei). Dit is na kommandant Jan dat die plek later Lindeshof genoem is.

Sal een keer bietjie na die Lindeshof wil gaan kyk.

Hans is in ongeveer 1775 oorlede toe hy net 45 jaar oud was. Hy is waarskynlik in die kerkhof op Leeukraal begrawe.

Ouma Linde, derde vrou van Georg Frederik Linde (ons Vrystaatse stamvader), het 103 en 11 maande oud geword (sjoe! amper 104 jaar! Kan nie imagine hoe dit is om SO oud te word nie.) Haar eerste man was Kommandant-generaal, Andries Pretorius (dalk ons enigste claim to fame).

Behalwe dat ons twee bekende skrywers in ons Linde-familie het. Engela Linde (nee Van Rooyen) en ek kan nou nie dink wie was die ander persoon nie. Dalk misgis ek my, want daar was ook ‘n Engela van Rooyen wat geskryf het. Dalk het sy eers onder haar nooiensvan geskryf. As dit die geval is, is sy net ’n aangetroude Linde.

*Ek was toe reg. Engela Linde en Engela van Rooyen is een en dieselfde persoon. Sy was eers Van Rooyen. (Snaaks, my ma was ook eers ‘n Van Rooyen, toe word sy ‘n Linde).

Engela Linde het meer as 100 boeke al geskryf en lewe nog iewers in Pretoria.

Ek is ’n ware Linde in murg en been (ek is ’n Linde gebore).

Ek het nou die dag ‘n boek deur Engela Linde teen ‘n appel en ‘n ei gekoop by die biblioteek. Ek kon dit nie neersit nie. ‘n Lekkerlees-roman.

Die ander skrywer in ons familie was Freda Linde wat hierdie jaar oorlede is. Sy het altesaam 32 boeke geskryf waarvan 29 kinderverhale is. Ek kan nie agterkom of sy ooit getrou het nie.

Sy was ‘n joernalis in 1937 vir “Die Suiderstem” en het as redaktrise by “Die Huisvrou” in 1960 gewerk. Sy was ook ‘n uitgewersredaktrise by John Malherbe. En het van 1971 voltyds ‘n vryskutskrywer geword.

Hier is ‘n voorbeeld van ons stamboom. Dit gaan ongelukkig net tot by my oupa.

Stamboom/family tree

Stamboom/family tree

About dada4nonsense

I am a 23 year old (at heart) who loves anything nonsensical

Posted on September 9, 2013, in Notes and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Comments Off on 100th post special – My family history/my familie geskiedenis.

Comments are closed.

%d bloggers like this: